7 Bob Bouwer Crescent, Bayview, Mossel Bay, South Africa

Accommodation in Mossel Bay

Luxury Oceanside Accommodation in Mossel Bay
29 Jun

Stoep Stories – Mosselbaai wen “Kwela-Dorp van die jaar 2017” kompetisie

Mosselbaai se verskillende kulture, die gesellige atmosfeer, die asemrowend omliggende natuurbeelde en die interessante toerisme bestemmings, maak hierdie dorp van ons, die perfekte toerisme dorp vir jonk en oud.

Dorpe reg oor Suid – Afrika is aangemoedig om in te skryf met ‘n skryfstuk, ‘n foto of ‘n video wat die vraag “Hoe lyk Afrikaans in jou dorp?” beantwoord. Afrikaans.com was vanjaar die trotse borg van hierdie kompetisie en volgens hulle proe, ruik en voel Afrikaans in elke dorp verskillend. So het hulle dan ook die hele Suid – Afrika die kans gegee om Afrikaans deur Mosselbaai se oë te beleef. Van alledaagse lewe, skoolgaan, hoe sake gedoen word en hoe in Afrikaans gekuier word in Mosselbaai, is deur die hele Suid – Afrika beleef.

Nelani Pfaff van Mosselbaai Toerisme skryf oor Mosselbaai die volgende: “Jy vra my hoe klink my hartstaal in hierdie pragtige plek wat ek huis noem, en woorde soos meer-as-mooi, lekker-man-lekker en veel-kulturig-kleurig bons en galop deur my kop. En hoe dan nou anders hier in manjifieke Mosselbaai waar soveel verskillende kulture daagliks ontmoet en een keer per jaar tydens die Dias-fees saam makietie hou. Ons by die Toerisme-kantoor is in die bevoorregte posisie om toeriste van oor die ganse wêreld met raad en daad by te staan wanneer daar op ons afgepyl word met vrae soos: “Wat is … ?”, “Waar is … ?”, “Waarom is … ?” en “Wie is … ?” gewoonlik gevolg deur talle Afrikaanse name waarvan die uitspraak dikwels so verskans deur aksente uitkom, dat ons by onsselwers alte lekker raai-raai-riepa speel. Van die restaurant name soos Kaai 4, ons geliefde braairestaurant onder in die Mosselbaai se hawe, vaar beter as ander met ritse r’e in, soos Groot Brakrivier se Transkaroo- of Visgraat-restaurante. Maar De Vette Mossel net duskant die duine ook doer in Groot Brakrivier, waarheen al wat leef en beef graag gaan om tone-in-die-sand te sit en smul aan alles van mossels tot kreef, vat die koek as dit kom by kosname soos snoek, soetpatat, potbrood, potjiekos en koeksisters. Gewilde winkels soos Moerby in die nuwe Hartenbos Seefront-ontwikkeling se name is moeiliker om te verduidelik om voor die hand liggende redes … Beduie jy besoekers na plekke en op paaie staan jy soms verstom as jy besef hoe trots Afrikaans Boggomsbaai, Vleesbaai, Danabaai, Ruiterbos, Hartenbos, Brandwag, Fraaiuitsig, Outeniekwastrand, Reebok, Tergniet en die Brakke op die oor val. Ja, ek verlustig my in my taal, want al ‘bedien’ ons die meeste van ons besoekers in ‘Brits’ aangesien almal van die Amerikaner en Europeër tot die Oosterling en Aussie ons dan beter begryp, trakteer ons hulle steeds op talle tussenwerpsels wat sorg vir juweeltjie-oomblikke. Klim ek vanaand in my tjor, wuif ek vir die Posboom, knik vir oom Dias, en draai ek die krane van S-fm oop, want dwarsdeur die Tuinroete van Knysna tot Mosselbaai tot Oudtshoorn en die Langkloof en nog dieper die Klein-Karoo in, weergalm Afrikaanse klanke en sus dit voorwaar die siel. So vul Afrikaans ons gemoed … huistaal, hartstaal, ’n stukkie hemel op aarde …”.

Kom bly dan gerus by ons, African Oceans Manor on the Beach, wanneer jy hierdie juweel-stad kom verken. Ons is lekker sentraal geleë met gesellige en luukse kamers, lip-lek-lekker ontbyt, piekniek mandjies, skemerkelkies op die strand, braai geriewe, direkte toegang tot die strand, ‘n asemrowende uitsig van die see en Outeniqua berge en ook gematigde klimaat heel jaar. Alles so nommerpas vir die perfekte vakansie in Mosselbaai.

Hierdie winter het ons ook afslag op verskeie verblyf opsies.

Sien jou amper, boek jou verblyf sommer vandag!

 

Kyk gerus die video, gemaak oor Mosselbaai, hier: www.visitmosselbay.co.za